Monday, June 27, 2011

Rhemardo

Dit was op Rhemardo dat die Here my siel gered het en ek ook my roeping tot die bediening besef het.

Toe ek agt jaar oud was het ek 'n ondervinding gehad waarin God se alwetendheid vir my werklik geword het. Dit het my toe genoop om 'n prediker van Sy Evangelie te word.

Ek was tien jaar oud toe ek daar op Rhemardo 'n traktaatjie gelees het genoem "Sonder Vyeblare Gered." Ek het die gebed op die agterste bladsy gelees en Christus in my hart in ontvang.

Toe ek twaalf was, het ek my eerste boodskap op Rhemardo gepreek in die ou saal/restaurant, wat vandag deel van die winkel is. Ek het van toe af gereeld op die oord gepreek. Ek het ook gereeld in die bosse gaan preek, waarin slegs bome en kwêvoëls my kon hoor. Ek het ook vir die swart werkers op die oord begin preek.

Dit was op Rhemardo dat ek my Bybel vir die eerste keer van Genesis tot Openbaring deurgelees het. Ek was toe dertien jaar oud.

Op Rhemardo en ook op die berg het ek nagte in gebed deurgebring. Partymaal het ek gevas.

Op my eerste daglange vas waarin ek slegs water gedrink het, het ek op Rhemardo die Here se stem vir die eerste maal gehoor. Dit was duidelike woorde in my gedagtes en wat my hart gevul het. Dit het gesê "My seun, ek wil hê jy moet 'n evangelis word."

Vandag is ek steeds 'n evangelis.  My herhinneringe van Rhemardo is herhinneringe van geluk en bestemming.  Behalwe vir drie jaar het ek op Rhemardo gewoon van Graad 1 tot Matriek.

Sien gerus my webblad en blogblad by www.joelhitchcock.com en www.joelhitchcock.blogspot.com.

Seenwense,
Joël Hitchcock